ONTDEK NUWE HOOP OP OU PLEKKE | JACO STRYDOM GESELS MET DE LA HARPE LE ROUX

ONTDEK NUWE HOOP OP OU PLEKKE | JACO STRYDOM GESELS MET DE LA HARPE LE ROUX

Deur Jaco Strydom, Kerkbode

“Gee jou hart vir Hillbrow,” sing Johannes Kerkorrel. Moeder Teresa het dikwels wanneer mense haar sou raad vra oor wat hulle met hulle lewe moet doen, geantwoord: “Go find your own Kolkata!”

De la Harpe le Roux is iemand wat dít actually gaan doen het. Iemand wat ’n stad gekry het om sy hart voor te gee. ’n Dominee wat sy Kolkata gevind het – met al die pyn en passie en die aksie en frustrasie wat daarmee saamgaan.

Terwyl ons gesels merk ek op dat veral twee temas oor en oor herhaal. Sy passie vir Jesus en sy passie vir mense in nood. Hy glo dat jy nie jou lewe vir Jesus kan gee sonder om dit ook vir die wêreld te gee nie.

De la Harpe is in die Karoo gebore, op Colesberg, sy pa was op daardie stadium ’n dominee op Noupoort. Hulle het heelwat rondgetrek in sy kinderjare, onder andere vir ’n tyd lank in PE in die Oos-Kaap en Pinetown in KwaZulu-Natal gewoon. Hy was in graad ses toe hulle uiteindelik Bloemfontein toe trek. Min het hy geweet watter enorme rol dié plek in sy toekoms sou speel.

Sy lewensverhaal is deurspek van paradoks en beautiful ironie.

Hy was byvoorbeeld destyds die junior burgemeester van Bloemfontein, dieselfde stad waar hy vandag sy lewe gee vir die statuslose mense waarvan die meeste snags op straat in die middestad slaap.

En om die kroon te span, is De la Harpe se basis die bekende Tweetoringkerk, ’n belangrike baken in die geskiedenis van Bloemfontein, die NG Kerk en die Afrikaner.

Vandag is dit straatmense, vroue vasgevang in prostitusie en ander mense in nood uit ’n verskeidenheid van kulture wat Sondae die kerkbanke van Tweetoringkerk vol sit. Hulle is sy gemeentelede, die mense saam met wie hy gereeld nagmaal gebruik, saam met wie hy Bybelstudie hou en aanbid en soek na antwoorde.

Die bediening se naam is Torings van Hoop.

Ek vra hom waar alles begin het?

Hy sê, die Here het hom hard afgebring aarde toe.

De la Harpe het nog altyd ’n groot pligsbesef gehad, eintlik reeds van sy skooldae af. “Ek wou na skool ’n luitenant in die valskermbataljon word en gaan veg as elitesoldaat om SA teen die kommuniste te gaan verdedig,” vertel hy.

Maar dinge het gou skeefgeloop. Hy breek sy been tydens die basiese dienspligopleiding en op 3 Mei 1989 is hy in ’n motorongeluk buite Vredefort. Vir maande lank lê hy onder andere met ’n gebreekte rug in die Militêre Hospitaal en worstel met God. Hy vertel van ’n gesprek met ’n kapelaan wat in daardie tyd ’n groot invloed op sy denke gehad het.

“Daarna gaan ek met my rugstut Pretoria toe en skakel in by Kruispad Koffiekroeg se straatwerk, en beleef hoe die Here met my op pad is. En leer dat die gawes wat die Here my gegee het, nie vir die ‘wonderlike naam De la Harpe le Roux is’ nie, maar vir die Here gebruik moet word.”

Jesaja 41:13-14 is ’n teksvers waaraan hy vashou en wat ’n groot invloed op sy lewe het: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou. Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as ’n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel.”

Ons gesels oor die invloed wat mense op ons lewenspad het en ek vra hom uit oor die persone wat die grootste rol gespeel het in die vorming van sy denke.

“My pa, my vriend, my voorbeeld, my rolmodel oor hoe om as dominee te leef,” sê hy. “Ek sal nooit sy positiewe reaksie vergeet, toe ek hom op 12-jarige ouderdom vertel dat ek ook nou ’n kind van God is, nadat ek vir die soveelste keer my hart vir die Here gegee het nie. Ook Brian Sweetlove – my mentor hier in Bloemfontein. Hy het my begelei en goed laat lees wat my verstaan van geroepenheid en wat dit beteken om as kind van God te leef radikaal verander het.”

Behalwe vir sy bediening by Torings van Hoop in die middestad, is De la Harpe ook al vir baie jare by die Teologiese Fakulteit op Bloemfontein betrokke as deeltydse dosent.

As dit moontlik wou wees, wat sou hy sê vir die jong De la Harpe, die teologiestudent van destyds? vra ek.

“Dat hy vroeër verryk moet word deur randfigure: teoloë, aktiviste, human rights idealiste. Gouer meer kritiese vrae oor die kerksisteem begin vra en nie so lank wag dat slegte ervarings jou lei om die sisteem te wantrou en bevraagteken nie,” sê De la Harpe.

Hy is iemand wat homself dikwels in die spanning bevind van lief wees vir die kerk en gefrustreerd wees met die kerk – veral die groter sisteme. De la Harpe raak soms erg negatief en krities, maar aan die ander kant vertel hy graag van individue en gemeentes in die omgewing wat op die grond betrokke raak en help.

Wat is sy droom vir die kerk?

“’n Gemeenskap waar almal, ongeag wie jy is of waar jy vandaan kom, welkom en tuis voel; ’n gemeenskap wat onvoorwaardelik leef vir die Here, sy Woord en die liefdesgebod ernstig opneem; ’n gemeenskap wat passievol is om die Woord in te drink, in die dieptes van die Woord te delf en met mekaar te deel, en die Woord onvoorwaardelik te leef – sodat die wêreld kan glo,” sê hy, en ek dink by myself: mag die ou se passie aansteeklik wees, mag die goed wat hom ontstel meer mense ontstel en sy droom vir die kerk in ons tyd waar word.

Mag meer mense soos De la Harpe hulle eie Kolkata ontdek en dit ook reg kry om nuwe hoop te bring op ou plekke.